Koshuisgeskiedenis

Uit Krismiskinders deur CJ Langenhoven is die name van die twee koshuise, ARISTO en SONGOUD, gebore. Hierdie verhaaltjie van die egpaar wat lank kinderloos was en drie Krismiskinders as Kersgeskenke ontvang het, speel hom langs die boloop van die Grobbelaarsrivier naby die Kango Grotte af.

Net soos die Krismisouers lank vir kinders gewag het en toe ’n dogtertjie, Talie, en vyf jaar later twee boeties, Aristo en Songoud (“so eners soos twee bone in ’n peul”), ontvang het, het die destydse HTS ongeveer 31 jaar gewag om sy nuwe skoolkompleks en twee identiese koshuise net voor Kersfees 1976 te ontvang.

Die motief by die gee van die twee name in Krismiskinders was godsdienstig van aard en was gemik op Kersfees en Sondag. Só wil ons ook steeds die Christelike beginsels by die inwoners van hierdie geboue inskerp.

Die identiese twee koshuise simboliseer ARISTO en SONGOUD wat ’n gelukkige tweeling was. Hulle was twee voorbeeldige en gehoorsame kinders, baie talentvol en karaktervas, elkeen met ’n besonderse rigting waarin hy belang gestel het.

ARISTO se verbeelding is aangewakker deur sy liefhebbery, naamlik poësie en die skryfkuns. Hy het met woorde geskep en gebou. Hy is opgevoed en rigting gegee deur middel van die taal wat die alfa en omega van alles is. Elke inwoner van ARISTO en SONGOUD moet sy taal gebruik om sy kennis oor te dra.

SONGOUD se groot liefde was vir sy omgewing en die natuur. Dit is gepas dat sy naam voortleef in een van die koshuise wat so knus aan die oewer van die Grobbelaarsrivier geleë is. Hy kon die helder kleure van die natuur indrink, die son en skadu waarneem en met sy hande sy gedagtes op doek deur verf en kwas vaslê.

Albei kinders was gretig om te leer en het skitterende onderrig gehad deur gespesialiseerde en knap leermeesteresse, Minerva en Ourora.

ARISTO en SONGOUD is uit die klein, beskermde kring van hulle ouerhuis weggeneem om hulle talente aan die onbekende wêreld uit te dra. Volgens die verhaaltjie het hulle uiteindelik in die diepste donkerte van die Kango Grotte beland. Dit is vir die skool ’n eer om weer hul name, én die van hul skepper, te laat voortleef.