Gimmie-Nuus: Uitgawe 18/2021

UIT DIE HOOF SE KANTOOR

Beste Ouers, Personeel en Leerlinge

Julle het almal hierdie afgelope tyd die grootste karakter gewys met die einde en die begin van die skoolkwartaal. Ons is redelik vinnig verras met die aankondiging dat die skool vroeër sluit, en weer daarna met die verlenging van die vakansie, sekerlik vir baie nie die heel slegste nuus nie, maar met aanpassings. Baie dankie aan u as ouers en spesifiek ons leerlinge wat met groot volwassenheid aangepas het nadat ons hulle gewaarsku het om alle boeke huis toe te neem om voor te berei vir die eksamens wat ons moes uitstel asook die moontlikheid van ‘n veranderde kwartaal.

Iets wat ons baie gereeld by ons leerlinge beklemtoon, is die voorbereiding vir die wêreld van werk, hierdie afgelope tyd is hierdie lewensvaardigheid by uitstek op die proef gestel. Welgedaan, Gimmies, julle is immers in die hoëskool en nie meer nodig om briefies te ontvang om reëlings te maak nie. Hierdie is deel van grootword, julle slaag dit met vlieënde vaandels. Ouers, leer julle kinders om aan te pas, iets wat hulle lewenslank sal nodig hê. Hoe moes ons as volwassenes hierdie vaardigheid die afgelope tyd self bemeester as leiers in ons eie huise!

Mnr. Olivier verlaat ons skool om sy loopbaan in die privaatsektor voort te sit. Baie dankie vir die afgelope twee jaar van onderrig by ons skool. Ons gaan jou vriendelikheid, positiewe lewensuitkyk en jou passie vir sport baie mis. Ons beste wense vergesel jou met jou nuwe uitdaging, ons weet dat dit met jou goed sal gaan. Ondersteun ons op die sportveld, ons ontvang jou graag by die skool. Baie dankie aan juffrou Stemmet wat mnr. Olivier se klasse gaan waarneem.

Ons is baie bewus van die invloed van die coronavirus in en op ons gemeenskap. Pas jouself op, wees versigtig wanneer jy rond- beweeg. Dra jou masker, saniteer, was jou hande gereeld, handhaaf die sosiale afstand om seker te maak dat jy nie in nabye kontak met enige persoon behalwe jou gesin is nie. Dit is ‘n feit dat vele leerlinge isoleer aangesien ouers geïnfekteer is, meld dit asseblief by die skool aan, hierdeur help u dat die virus nie verder versprei as u huis nie. Ouers, wees verseker dat ‘n onderwyser by die huis sal bly indien hulle moet isoleer. Die skool word verplig om enige positiewe geval van leerlinge en personeel elektronies aan te meld. Hiervoor benodig ons die naam van die persoon, die datum van die toets, asook die datum wanneer die leerling mag terugkeer skool toe. Dankie aan elke ouer wat hierdie inligting getrou aan die skool stuur. Enkele leerlinge is positief getoets gedurende die kwartaal. Voorsien ons asseblief ook van ‘n skriftelike bewys aangesien ons dit benodig indien die leerlinge enige assesserings as gevog hiervan mis.

Maak gebruik van die geleentheid om onderwysers te spreek oor u kind se akademiese vordering. Vorderingsverslae sal volgende week aan u gestuur word. Leer u kinders om die geseëlde koevert aan u te gee met die verslag daarbinne. Dis immers u wat die skoolgeld betaal en die reg het om eerste die koevert oop te maak.

Ons verwag ‘n aankondiging oor die hervatting van sport vir die res van die kwartaal. Ons sal u kinders op hoogte hou hiervan, hulle kan u weer dienooreenkomstig inlig.

Geniet die naweek en mag u gesond bly.

Vriendelike groete.
Stephanus Potgieter